Dit het eintlik begin toe ons verlede jaar begin pak het,…
Ek is lief vir boeke en saam met Ansie sin is daar ‘n paar honderd titels in ons huis (groot geld spandeer!). Met die pakkery het ek teen die spoed van wit lig besluit: JY gaan saam,… en JY nie; deur net na die titels te kyk! Dis toe dat ek op die idee afkom om na aanleiding van boeke/tydskrifte se buiteblaaie/titels te begin blog.
Die boek het vanoggend by die gastehuis dadelik my oog gevang! Waarskynlik omdat dit twee “interessante” gesegdes bymekaar bring. “When life deals a bad card…”, is algemeen bekend. Dit gaan oor tye en omstandighede waarin jy beland of jy jou bevind wat jy glad nie sien kom het nie… Dis so ‘n “suffer in silence” gevoel. Ek kan nie die kaarte sien nie; ek deel nie die kaarte nie!
Maar dan gebruik die skrywer ‘n golf-gesegde om die eintlike titel van sy boek aan te kondig: “Play it as it lies…” Enige golfer sal kan vertel dat jy nie jou balletjie mag skuif nie! Daar waar hy tot ruste kom, daarvandaan moet hy verder gespeel word. Setperke, sandkuile, tussen blare en takkies in die lang gras en van die afslaanpunte af! Behalwe in watergate… Haal ‘n nuwe uit en verloor ‘n hou! “Play it as it lies!”
Die boek vertel die verhaal van Fergus Buchan wat sy seun sien sterf het op 4-jarige ouderdom in ‘n trekker-ongeluk. As golfer moes hy die “balletjie” daarvandaan speel.
Ek dink om so te leef, beteken ten minste (vir my!):
- Om (altyd), baie realisties die trek van jou balle dop te hou en baie seker te maak jy weet presies waar hy tot le kom. Ons slaan baie keer balle wat glad nie daar is nie, omdat ons nie WEET waar ons bal geland het nie!
- Gebruik jou tyd en energie om die volgende hou goed te beplan. KYK WAT IS IN JOU OMGEWING WAT JY TOT JOU VOORDEEL kan gebruik.
- MOENIE die hou uitvoer as jy gefrustreerd, kwaad of oorstuurs is nie.
- Hou jou kop af en vertrou jou “swing” – die werking van God se Gees.
- Maak seker dat jy die regte stok kies vir die hou! Hoor jou vriende se aanbevelings (daar sal baie wees), maar besluit self.
- Hou jou oog op die gaatjie en die vlaggie as jy die hou opstel.
Dis darem jammer hulle het nie golf gespeel in Bybelse tye nie! Van die skrywers sou pragtige metafore gehad het om mee te werk!